Dis skuins na 12 uur Sondagnag, nog maar die 8 ste van die maand en ek sit in sak en as - want hoe kies 'n mens tussen kos vir jou kinders en petrol vir die werk. Vader weet, ek is moedeloos ... maar daar is darem seker mense wat swaarder kry as ek ... die wat nie eers 'n dak oor hul koppe of 'n kombers het nie ... Dankie Here ek het darem 'n werk, 'n dak oor my kop, 'n kar en kos. Waar sal my hulp vandaan kom? Ek gaan probeer om my storie te vertel met die hoop om vir ons wat so gou oordeel en neerkyk op mense twee keer te laat dink. Ná jare se mishandeling wat ek en my kinders deurgemaak het, het my jongste so ses jaar gelede by haar onderwyseres gaan kla en is hulle pa verwyder deur die kinderbeskermings-eenheid. Nodeloos om te sê wag ons steeds vir enige aksie wat teen hom geneem moet word. Verstaan asb. ek wil nie soos 'n slagoffer klink nie. Inteendeel, ek het my kop opgetel en alleen vir my kinders gesorg, vir ses moeilike jare, want sien, ek is geseën met 'n engeltjie van die Here af. My dogter Sammy is verstandelik gestrem, was al twee keer op 'n ventilator, is 'n diabeet en is aan suurstof gekoppel. My jongste skryf vanjaar matriek. Ek het verskeie kere probeer om van my man te skei, maar het nie die geld nie en ek gaan nou probeer om dit self te doen. Mense wat my sou help met die skeisaak het die aftog geblaas omdat my man die heeltyd weier om enige onderhoud te betaal en daarop aandring dat die kinders by hom moet gaan bly. Ons het wel een keer in die hof geëindig maar die saak is van die rol geskrap want die regter het vir my man gesê hy moet regshulp kry en ook dat die hoflêer weg is. Ek werk by Tshwane se stadsraad en verdien nie veel nie. Ek huur by die stadsraad 'n huis teen R 2 300 per maand. Dan moet ek 'n vrou wat na my gestremde kind omsien, elke maand R1 200 betaal en die water en ligte is 'n verdere R 1000. Ek het Sammy self opgelei en ook na die hospitaal gevat en die susters het haar touwys gemaak oor basiese versorging. As gevolg van 'n klont in haar long moes sy 'n gaaitjie in die keel kry. Ek het al oral geld geleen om net deur te kom per maand en ek skuld die mikro-leningsmense ook 'n klomp geld. My salaris is net nie genoeg vir alles nie. Klere kry ons reeds by die kerk of welsynorganisasies. Aan die ander kant - as ek om hulp aanklop by my eks-skoonma gaan dit glo altyd erger by haar as by my. My man bly by sy ma saam met sy nuwe vrou en as ek hulle vra om met hom te praat werk hy altyd. Die "way" wat hy werk moet hy al beter verdien as Sol Kerzner, maar hy het onder eed afgelê dat hy niks het nie, nie eens R120 per maand vir sy kinders nie. Ek het aansoek gedoen vir Sammy vir pensioen in Februarie. Ons moes 'n volledige verslag van die dokter inhandig wat ons ook gedoen het, maar toe ons uiteindelik die verslag het, het die dokter by die pensioenkantoor gesê sy moet ook 'n verslag van 'n psigiater indien. Ek het Pretoria Akedemies geskakel en hulle het my verwys na Universiteit van Pretoria. Daar het hulle my meegedeel dat hulle vol is en dat ek maande gaan wag, eers vir die toetse en dan nog omtrent 6 weke vir só 'n verslag. Ek het vanoggend sonder petrol gaan staan; ek het nie eers geld vir 'n buskaartjie nie. Ek voel soos 'n aasvoël en dit voel of mense my vermy, seker omdat ek heeltyd geld leen, of hulle verkies om 'n blinde oog te gooi. Om te bedel: Om te bedel sit nie in elke ou se broek nie. Dis die helfte van die maand en “Februarie” was nog nooit maklik nie, al is dit die maand van die liefde is daar rerig nie baie wat die rondte doen nie.. ek praat van liefde vir jou mede mens... Terwyl die winkels getooi is in rooi en geld maak soos bossies, is daar mense wat wel 'n werk en 'n skuiling het teen wind reën en weer, maar los geld vir brood en petrol is daar nie....ek bid dat die sweet loop,in die warm Februarie, is dit nie moeilik in die hitte, wat ons ervaar nie...met die heel laaste vyf rand op my naam tref 'n gevoel van moedeloosheid hartseer en ook woede my.. Ek het nie vanoggend gaan werk nie my lyf is oortrek met galbulte...die angs slaan deur my liggaam en los 'n reuk waarvoor ek gril ek dink mens kan dit leeu sweet noem..dit is in 'n ligte luim gestel, maar is tog die waarheid...daar is nie geld vir deoderant nie ook nie seep nie die tandepasta is leeg gedruk en is nie meer vloeibaar nie, jy suig aan die bopunt en kry darem die geur van aqua Fresh, en om te gorrel met sout het seker nog niemand dood gemaak nie. Hare soos gras want die skottelgoed seep is nie bedoel vir hare was nie. My kar wat nie op die pad is nie en ook nie rerig padwaardig is nie, suig die laaste bietjie petrol uit soos wees kinders lemoene suig, die snot wat afloop in die mond is 'n bonus want dit help vol maak. Die ford start dadelik sy is goed vir my al het ons maande laas bietjie olie ingegooi ek persoonlik dink die enjin word gedryf deur engele, ek hou gereeld asem op as ons oor 'n heuweljie of stywe opdraande gaan maar kom veilig by die bestemming aan. So pak ek die oggend aan, ek en my gestremde dogter..ek moet. Ek haat dit om my kinders so bloot te stel en sien in haar ogies 'n verneedering wat onbeskryflik is, die knop in my keel wurg en my lippe is droog, met 'n gebuigde liggaam loop ek in die slaghuis in. Ek val oor my woorde en niks wat ek sê maak vir my sin nie, daar is 'n paar mense in die ry voor ons en ek is bewus van die reuk van my menswees uiters bewus...ek het nie gedink mens kan jouself so ruik nie, uiteindelik is dit ons beurt ek staan voor 'n man wat ek ook kan sien het nie altyd 'n maklike lewe gehad nie hy lyk ook maar krom van stres en die grys hare staan welig om sy hoof, meneer kry ek die woorde uit my asem voel te vinnig my hart klop soos 'n mossie wat uit die nes geval het hopeloos te vinnig..meneer ek het 'n werk en 'n kar 'n huis en krag maar ek het nie vannaand vir my kinders kos nie...as u my nie kan help nie sal ek loop en net iemand anders probeer want my kinders moet kos hê. Asseblief meneer, ek kyk in sy blou oë en voel duislig. Hy sit agter die toonbank waar die till is en sy oë ontmoet weer myne ek sien hy som my op in 'n mate dink ek hy is iemand wat ander maklik sal help, maar ek kry ook die gevoel dat jy nie vir hierdie vreemde man moet lieg nie...en met lieg is ek nie goed nie veral nie as dit oor kos vir my kinders gaan nie., Hy staan op en kom agter die toonbank uit met 'n spoed wat ek nie van so ouerige man verwag nie gee lang lenige tree na die yskas gryp 2 pakke vleis stop dit in 'n sak en knik sy kop...... Ons loop by die slaghuis uit ek is oor selfbewus my kop grond toe die trane loop vrylik sommer so van self skiet dit uit my oë my dogter sien dit en byt haar onder lippie ek sien die kennetjie ook bewe dit is stukkend in my ek wil net daar neerval en huil en skreeu maar my brein sê vir my hou kop julle kan eet vannand. Ons klim in vlekkie haar verf werk dop af en waar sy eens 'n sexy maroon karretjie was is sy dof en plek plek dop die velle soos die son haar bak. My blonde dogter met haar blou oggies groot oopgesper kyk vir my en sê, mamma die Here het die oom se hart oopgemaak ons moet bid en dankie sê, dit doen ons toe in die hitte van die maroon fordjie. Die totaal van die vleis is R50.60 ek sal dit die einde van die maand vir die slagter met die blou oë terug gee en weer baie dankie sê. Ons kan dit vir vier aande rek.. Die vleis is nou daar maar wat maak mens tog nou by dit? Vol moed en met die wete van mense het harte loop ek by die volgende besigheid in...die vrou wat ons tegemoet kom se oë is hard haar lippe styf getrek en met 'n hooghartige kan ek help, begewe my moed my “hierdie vrou het nog nooit nodig gehad om te bedel nie dink ek..hoe benader ek haar? Sy het 'n afkeur in haar oë en ek sien wat sy dink “die ding is seker te sleg om te werk” dis mos makliker om te bedel sleg volop. Mevrou begin ek, maar ek kry swaar om die woorde te spreek..my dogter sit haar vingertjie op haar traggie en help my om die woorde uit te kry “tannie my ma het 'n werk ons het 'n kar en ook 'n plek om te bly..maar ons het nie kos nie...ek skud my kop en sien hierdie vrou is nie die man met die blou oë nie. In 'n hoogmoedige skel stem bars die woorde oor haar lippe....julle wat so bedel is 'n skande vir die blanke volk..kry julle nie skaam nie het julle geen trots nie? Mevrou vir jou bid ek...... My eer is gekrenk en my mond hang oop van ongeloof...hoe nou? My dogter sê mamma kom ons probeer Fruit and Veg ons koop mos daar en miskien kan hulle ons help....my kop lê laag op my bors en ek dink ek sal nie maklik weer iemand kan vra nie...maar ry tog Fruit and Veg toe in Gesina. Die sweet tap ons af dis vuurwarm in die kar....skielik tref die koel lug van die winkel ons soos 'n lavenis en ek stap doelgerig in die rigting van die kasiere vra in 'n vriendelike trant vir die portegese meisie om die “manager” te sien, sy stuur ons agter toe en my dogter se ogies gaan oor die vrugte en groente en sy is baie lus vir dit, die reuk van groente en vrugte speel verleidelik onder ons neuse jou mond water erger as 'n bullterrier by 'n braai wat nie kan wag vir 'n stukkie vleis wat perongeluk op die grond beland nie. By die manager aangekom is sy besig met iemand by wie hulle goedere aankoop, ek dink in my kop hierdie vrou is besig en nou gaan ek haar pla...mevrou begin ek toe in engels want ek kan sien hulle is portugees en ek weet hulle praat gemakliker engels. Jy kan afrikaans praat se sy vir my en ek sien hiers 'n “gap” om te bedel is hel moeilik en nog in engels is erger “mevrou begin ek weer ek het 2 kinders wat nie kos het nie sy kyk vir my dogter en ek sien sy kry 'n jammerte in haar hart sy laat my nie eers toe om te bedel verder nie maar vat 'n trollie en vra, vrugte ook? Ek knik my kop.My oë ontmoet my dogter sin en ek en sy sê dankie sonder woorde. Die donasie het 'n bedrag van R60.00 beloop en ek sal dit gaan betaal sodra ek kan.. Dit sit nie in almal se broek om te bedel nie.... Op die oomblik gaan dit baie moeilik met ons mense..as ek kon sou ek almal help.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment