Op pad na die dam toe, het ek die rooikopseunskind al teen die kant gewaar. Met sy voete in die water was hy met iets doenig, droomverlore in sy eie wêreld. Hy moes my ook raak gesien het, want toe ek oor die houtbruggie na die eiland toe stap, kom hy nader.“Hallo. Wat is jou naam?” groet ek.“Herrie” Ek verkyk my aan die sproete wat eweredig oor die neusie gesprei lê.“Is jy nie bang jy val in die water nie?” vra ek.“Nooit nie, Tannie.”“Wat het van die eende geword?” Gesels ek verder.“Hulle is daar oorkant op die wal. Kom, ek gaan wys vir Tannie.”Hy draai om en ek stap agterna. Langs die houthuisie wat halfmas oor die dam gebou is, gaan hy op sy hurke sit.“Sien Tannie, hier’s ʼn leertjie waarmee mens in die water kan klim.”“Seker eers as dit somer is, die water lyk vir my maar koud!”Hy lag. “Kyk Tannie, ek het ʼn pyp” en hy lig die stuk tuinslang uit die water uit. “Dis my… uhmm… ek’s ʼn olifant en hierdie is my… ‘n…” hy sukkel om die regte woord te onthou.“Slurp” help ek hom reg.Hy blaas yslike borrels deur die pyp in die water en glimlag triomfantlik op in my rigting.“Bly jy hier?” vra ek.“Nie hier nie, da’ anderkant.” Hy beduie na waar die houthuisies netjies in twee rye sy aan sy geplak staan. “Ons het drie keer getrek. Eers, wat nou weer? Uhmm… o, Kaap toe en toe na my tannie toe en toe hiernatoe.”Na die blanke plakkerskamp. Hier by Kameeldrift (op die Brits-pad uit Pretoria uit) waar Katryntjie van Boere-eenheidforum, vandag ʼn kenmekaar- en boeresport-dag gereël het.“O. Hoe oud is jy?”“Agt.”“Kyk” en hy lig die pyp uit die water. Met sy hand vee hy die water af. “Voel hoe voel die water” en hy hou sy nat hand na my toe uit.“Brrr, pure winter” ril ek. Hy lag en lig die pyp hoër op, dit gly egter uit sy hande uit en voor hy nog kan raak gryp verdwyn dit onder die bruin water.Oeps, daar is die olifant nou sy slurp kwyt, dink ek amper hardop. Wat ʼn verlies! Dit pla my egter meer, as vir Herrie. Hy draai om en kry ʼn stuk hout beet.“Kyk, dis my boot” en hy gooi die hout op die water. Skaars het dit begin rond dobber of hy het ʼn yslik klip in sy hande… “Kyk, ek gaan hom nou sink,” hy gooi met soveel mag en mening dat die water oor ons spat.“Kom ons gaan haal vir ons kos” stel ek voor.Met die borde kos voor ons gaan sit ons wydsbeen bo-oor die eerste bankie en gesels verder soos ou vriende. Herrie vertel dat sy ma bedags in die eetsaal werk.“Ek gaan gou vir Tannie wys hoe diep die dam is” In ʼn oogwink het hy sy broek sover as moontlik opgetrek en hardloop hy weer af water toe. Sy bene is lank genoeg – die broek word net-net nie nat nie.Hy kom haastig terug en ons eet ʼn rukkie in stilte.ʼn Witkop seuntjie kom verby en hy gryp hom nader: “Hierdie is my kleinste boetie.”Ek herken hom dadelik as Jonatan van vroeër wat saam met sy vriend Dawid so ywerig aan die boeresport deelgeneem het.ʼn Groter seun kom styf teen Herrie op die punt van die bankie sit. “Dis my maatjie, Henry. Hy is ook elf, nes my ouer boetie.” Hy kou haastig ʼn hap klaar en draai weer na Henry: “Vertel vir die tannie hoe ek my broer opneuk…”“Haai, dis nie baie mooi…” begin ek, maar hy luister lankal nie meer nie.“Daar’s hy!” Soos ʼn rooi blits hardloop hy ʼn groep seuns tegemoet, sy vriend agterna. Ek eien sommer die ouer boetie aan die sterk familietrekke, nog voordat Herrie sy voete onder hom uitduik. Die boetie is heelwat langer as hy en onbliklik is daar moeilikheid. Herrie laat spaander met ʼn wye draai, sy broer en ʼn klomp maatjies stommende agterna.Nie lank nie of hy is terug en val met mening aan die bord kos weg.“Hierdie is die lekkerste!” Met sy vurk ryg hy die pynappelblokkies tussen die gerasperde wortels op.“Nee wat, ek dink die krummelpap is lekkerder.”“Nee, ek hou niks van daai pap nie” Hy skud met mening sy kop. “Koekie-pap is lekker.”“Dié is ook lekker” en hy wys na die noedelslaai “en die ook, en dié…”Hy vat die stuk wors in sy hand: “Ek weet tog wat is hierdie om die wors”“O, wat? Plastiek?” hou ek my dom.“Nee. Derms.”“Oe, kan mens dit dan eet?” ril ek kastig.Hy lag en trek die velletjie af en sit dit heel in sy mond.“Dis lekkerrr”Die res van die wors hou hy in sy vuil handjie: “dis ‘mince’” beduie hy tussen die kouhale deur vir my.Hy kou haastig klaar: “Okay” en daar trek hy, agter sy maats aan.Ek pak op en gaan groet.Voor ek in die kar klim wonder ek of die kind ‘Harry’ of ‘Herrie’ na aanleiding van Herman heet. Ek het nooit daaraan gedink om hom te vra nie. Ek het sommer aangeneem dat dit Herrie moet wees.Ek hoop tog dat dit is – miskien kan ons eendag weer gesels en dan sal ek tog vir hom die geskiedenis van Herman die groot Germaan wat die Romeine verslaan het, vertel.Hy behoort trots te wees om so ʼn naam te kan dra. Hy sal dit verstaan, want hy is ʼn gebore veroweraar. Hierdie blanke plakkerskamp is tans sy verowerde gebied en ek was bevoorreg dat hy my vandag op ʼn reis hierdeur geneem het.Sy domein het alles wat ʼn mens se hart kan begeer. Ruimte en skoon blou lug, bome met koelte en die rustigheid van ʼn dam water. ʼn Houthuis om mens teen die elemente te beskerm. Familie en vriende om jou te koester. Mens kan hier so groot soos ʼn olifant wees as jy wil en as jy nie op die bootjies kan ry nie, is die dam is nie te diep om in te staan nie.Elke dag het hier genoeg uitdagings en aan entoesiasme en vasberadenheid ontbreek dit ook nie.Al is daar ʼn mate van verwaardelosing in Herrie se klere te lees en op sy gesiggie spore van swaarkry, is die sorge van die lewe nog niks wat hy op agtjarige ouderdom nie kan hanteer nie.Voor ek by die hek uitry kyk ek vir oulaas weer tussen die huisies deur…en ek wens met my hele hart dat die lewe vir Herrie altyd so sal bly – ʼn wye, wye wêreld gevul met onbeperkte moontlikhede!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment