Sarie se storie
Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2010.
Sal iemand ooit weet of onthou klein Jana was ook vir ‘n rukkie, ‘n volle 16 maande, hier op aarde, of beteken dit as jy arm is en jy gaan sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net moet aangaan sonder jou, sonder om jou te mis of om ‘n gat te los?
In Sarie se hart het haar kind se dood ‘n gat gelos – vir ewig. Die winter het ons gevang hierdie jaar.
Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele bestaan opgesom in ‘n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed? Ek leef en oorleef met ander mense se weggooi-goed op hierdie godverlate vlaktes waar nie eers ‘n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil hier wees nie, niemand moet hier wees nie…
Die kamp en sy mense en die moedeloosheid is besig om my siel lagie vir lagie af te skil tot daar niks van my gaan oorbly nie. Dit maak my dood, maar op ander maniere as wat honger of siekwees jou dood maak. Dit maak die rede dood - die rede vir opstaan en die rede vir weer probeer.
Dit maak dit net dood.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment