|
3/29/2010 9:45:00 PM
Net 160 voedselkoepons is van 2008
aan ’n groep van 600 000 wit armes
uitgedeel.
Die uitdeel van sulke koepons aan
die inwoners van Bethlehem, ’n arm,
informele wit nedersetting in Andeon,
in die noorde van Pretoria, is gestaak
’n week nadat mnr. Jacob Zuma dit op
18 April 2008 as ANC-leier op uitnodiging
van Solidariteit besoek het.
“Staatsamptenare het gesê dit is
rassisties om honger wit mense te help,”
skryf dr. Danie Langner, uitvoerende
direkteur van Solidariteit Helpende
Hand, in ’n brief aan Zuma.
Dié brief gaan môre as deel van
’n verslag oor die “gesigte van
Afrikanerarmoede” aan Zuma
oorhandig word tydens sy
opvolgbesoek aan Bethlehem.
Luidens die verslag is die uitdeel
van voedselkoepons aan arm wit
mense gestaak ondanks die
bevindings van ’n onafhanklike
ondersoek deur die destydse
Umsobomvu Youth Fund, tans
die National Youth Development
Agency (NYDA).
Daarvolgens is bevind die regering
se definisie van voorheen benadeelde
mense moet uitgebrei word om
die wit jeug tussen 18 en 35 jaar
met ’n inkomste van R500 tot R3 000
per maand in te sluit.
Volgens die ondersoek is die arm
wit jeug beslis een van die mees
gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika.
Langner skryf vir Zuma hy glo die
president sal geskok wees om te
hoor dat me. Heila Rothmann, ’n
siek en sterwende kankerlyer, etlike
dae lank van 06:00 tot 17:00 in ’n
ry moes staan net om op 6 Maart te
hoor haar vyfde aansoek vir ’n
ongeskiktheidstoelae is van die hand gewys.
Rothmann het haar stryd teen kanker
’n week later verloor.
Luidens die verslag toon navorsing
wat Helpende Hand gedoen het dat
63% van die inwoners in die 77 wit
informele nedersettings in Pretoria
60 jaar en ouer is.
Boonop ondersoek die Centurion-raad
vir bejaardes tans sowat 2 100 armoedesake
terwyl sowat 1 000 gevalle van
bejaardeverwaarlosing per maand
by die Pretoriase Bejaardesorg aangemeld word.
Langner het gesê hul navorsing dui daarop
dat daar slegs een maatskaplike
werker vir elke 4 000 Suid-Afrikaners is.
Uit die NYDA se verslag blyk dit is
“ongelooflik moeilik” vir wit gemeenskappe
om toegang tot ongeskiktheidstoelaes te kry.
“Die meeste arm swart gemeenskappe
het toegang tot satellietkantore van die
departement van maatskaplike
ontwikkeling wat aansoeke vir toelaes verwerk.
’n Soortgelyke diens is nie vir behoeftige
wit gemeenskappe beskikbaar nie,” het Langner gesê.
|
|
No comments:
Post a Comment