Krugersdorp - ’n Rastwis het uitgebreek in Kagiso, waar 25 arm wit gesinne aansoek gedoen het om Hop-huise in dié township naby Krugersdorp.
Die 25 gesinne, waarvan sommige op straat bly, beweer hulle het al tien jaar gelede om huise aansoek gedoen. Hulle sê ras behoort nie ’n rol te speel in die toekenning van huise aan armes nie.
“Ek is nie iemand vir politiek nie; ek bly maar net hoop en bid dat ek ’n huis kan kry,” sê Johanna Putter (60).
Maar Luyanda Njomane, sekretaris-generaal van die South African National Civic Organisation (Sanco) in Kagiso, sê wittes is nie welkom in Kagiso nie omdat hulle “voorgetrek” word. “Ons soek bewyse dat hulle wettig aansoek gedoen het vir hul huise.
“Anders sal ons saamstaan en keer dat hulle hier kom bly,” waarsku hy.
Putter sê sy en haar man, Christo (34), bly die laaste paar jaar op straat en slaap onder kartonbokse.
“Ek gee nie om waar die huis is wat die regering vir my gee nie. Ek sal net dankbaar wees dat ons nie meer op straat hoef te wees nie en as ons deur die gemeenskap aanvaar word.”
Sy sê sy en Christo werk albei as karwagte in Krugersdorp en hul maandelikse inkomste beloop sowat R1 500.
Nog een van die hoopvolles, Mark Pitzer (32), sê: “’n Huis bly ’n huis, maak nie saak waar dit is nie.”
Putter het verlede maand gehoor hy is op ’n waglys geplaas vir ’n huis in Kagiso nadat hy ’n dekade gelede daarvoor aansoek gedoen het. “Ons sal verskriklik dankbaar wees om weg te kom uit ons omstandighede en ons eie huis te kan hê.”
Pitzer deel ’n kamer met sy vrou, Angie, hul twee seuns, Ian (9) en Michael (5), en babadogter, Bernadette (3 maande).
Nog ’n gesin woon in die huis se enigste ander slaapvertrek.
Pitzer is in 2000 gedeeltelik verlam in ’n transitorooftog toe hy as ’n veiligheidswag gewerk het. Sy gesin moet sedertdien op sy ongeskiktheidstoelae van R1 080 per maand oorleef.
Anita van Niekerk (34) sê haar gesin sal nie sukkel om aan te pas in Kagiso nie. “My man, Gerrit, plaat vlot Fanagalo (’n mengeltaal wat vir gebruik in myne ontwikkel is) en my beste vriendin is swart. My seun Gerrit (10) se beste maatjies op skool is ook swart.
“En ons het klaar vriende in Kagiso gemaak by die kerk se selgroep.
“Ek weet ons sal lekker daar bly.”
Van Niekerk sê hulle behoort maklik aanvaar te word omdat hulle hul bure sal respekteer. “Ek kan jou beloof – hulle is nie haatdraend nie en hulle maak maklik vriende.”
Die gesin se inkomste is volgens haar minder as R2 000 per maand.
Njomane beweer dié wit gesinne het eers in 2001 en later aansoek gedoen vir huise, terwyl swart gesinne dit reeds in 1996 gedoen het.
“Dit wys die Mogale City-stadsraad weet nie wat aangaan met sy waglyste nie,” sê Njomane.
Nkosana Zili, Mogale City-woordvoerder, sê die stadsraad beskou armoede as ’n probleem wat onder alle bevolkingsgroepe voorkom. Ras is nie bepalend as dit kom by die toekenning van huise nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment