2011-04-06 21:21
In Suid-Afrika se soeke na oplossings vir sy uitkringende armoedeprobleem is dit belangrik dat hy sensitiwiteit vir kulturele diversiteit behou, meen Danie Langner.
‘Nothing is politically right which is morally wrong.”
Hierdie stelling van die filosoof Daniel O’Connell is veral van toepassing op die Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk. Die debat met die klem op die Suid-Afrikaanse rassediversiteit lei tot ’n blinde kol vir die kulturele diversiteit in Suid-Afrika.
Sensitiwiteit vir die kulturele diversiteit is veral kritiek belangrik om volhoubare oplossings te vind vir die groeiende Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk.
Persepsies soos “wit is ryk en swart is arm” of begrippe soos “swart mense en ander” wat Statistieke Suid-Afrika in ’n armoedekonteks gebruik, is simptomaties van die ideologies gedrewe rassebenadering wat die regering aan die samelewing opdwing.
Dit werk rasseverdeling en polarisasie in die hand en werk sosiale kohesie teen. In Suid-Afrika het armoede lankal nie meer ’n velkleur nie. Tog het elke stukkie van die Suid-Afrikaanse armoedelegkaart besonderse kultuurbepaalde hoekies en kante.
’n Maatskaplike model wat kulturele diversiteit se waarde erken, bied die sleutel wat die uniekheid van elke gemeenskap se stukkie van die armoedelegkaart kan erken. So ’n kultureel sensitiewe model bied gemeenskappe die geleentheid om hul kulturele kapitaal te ontsluit en tot voor*- deel van almal toe te pas.
Kulturele waardes wat klem lê op selfstandigheid, verantwoordelikheid en opleiding in Afrikaans was van die kulturele kapitaal onderliggend aan die suksesvolle hantering van die Afrikaner se armoedevraagstukke in die vorige eeu.
Kultuur (onder meer ’n mens se lewens- en wêreldbeskouing, sy godsdiens, sy taal, sy waardes en sy lewensgewoontes) bepaal sy gedrag, sy emosies, sy welstand en sy sin vir verantwoordelikheid. Al is alle arm mense se lewensbehoeftes eners, is wat vir die een reg is nie noodwendig reg vir die ander nie omdat kulturele gebruike en waardes oor gedragspraktyke verskil.
Die kernvraag is: Watter maatskaplike beleid bied die verskeie arm gemeenskappe in Suid-Afrika die vryheid om volgens die Handves van Menseregte se riglyne hul potensiaal te ontwikkel in ’n raamwerk wat hul kulturele behoeftes respekteer?
In 1995 het die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) ’n vertroulike verslag gerig aan mnr. FW de Klerk, toe adjunkpresident, oor knelpunte in Suid-Afrika se welsynsbestuur. Die verslag het kommer uitgespreek oor die kulturele onsensitiwiteit waarmee die nuwe regering die maatskaplike stelsel met regstellende- aksieprogramme bestorm.
Die verslag noem die voorbeeld van die plasing van ’n Xhosa-seun (4) by ’n Afrikaanssprekende huisouer wat glad nie Xhosa magtig is nie. Dít, sê die verslag, is ’n vorm van kindermishandeling. Die regering se kulturele onsensitiwiteit is, volgens die verslag, een van die eerste tekens wat dui op die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse welsynstelsel.
Uit die verslag blyk dit dat die maatskaplike ineenstorting te wyte is aan ’n “sekulêre of neutrale benadering wat aan Afrikaanse welsynsorganisasies opgedwing word deur wetgewing of staatsubsidies te gebruik as ’n afpersmiddel”.
In die verslag is daarop aangedring dat die Grondwet se bepalings wat ’n eie gemeenskapslewe waarborg ook die welsynsgemeenskap sal geld. ’n Studie van die VN se handves van menseregte, minderheidsgroepe, kinders en etniese groepe bevestig dat hierdie standpunt ook internasionale erkenning het.
Regstellende aksie, ideologies gedrewe transformasie, die afskaling van staatsubsidies en die marginalisering van Afrikaanse welsynsdienste is alles simptome van ’n dieperliggende skuif in die regering se maatskaplike benadering ná 1994.
In die onderhandelingsproses is net onderhandel oor staatkundige en ekonomiese uitkomste, nie oor die beginsels vir ’n maatskaplike beleidsraamwerk nie.
Daar was geen wigte en teenwigte in die Grondwet wat die kulturele aard van welsynsdienste beskerm het nie. Terugskouend was dit ’n belangrike strategiese fout. Die deur is wyd oopgelaat sodat die nuwe regering ’n sosialistiese welsynsbeleid kon instel wat alles van bo af wil reguleer en maatskaplike dienslewering deur transformasie verengels.
Maatskaplike dienste deur die staat se agentskappe is net in Engels.
Een van Afrikaanse armes se grootse probleme is dat amptenare hulle nie kan of wil verstaan nie. Hulle sukkel ook om die Engelse vorms korrek in te vul, gevolglik word Afrikaanse bejaardes se aansoeke om ouderdomspensioene herhaaldelik afgekeur.
Uit samesprekings wat Solidariteit Helpende Hand met Sassa (die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid) gevoer het oor die gebrek aan maatskaplike dienslewering in Afrikaans het dit duidelik geblyk die regering het nie die politieke wil om in armes se moedertaal na hulle uit te reik nie.
Die regering se onsensitiewe hantering van arm gemeenskappe se kulturele behoeftes word ook gesien in die toegang tot laekoste-behuising. Afrikaanse armes het net ’n kans om laekoste-behuising te kry as hulle bereid is om in ’n township te gaan bly. Om ’n arm mens se nood as hefboom te gebruik vir die transformasie van ’n gemeenskap is kultureel onsensitief en moreel verkeerd.
Al was die meeste konferensiegangers en sprekers op die Unyameko- armoedekonferensie, wat gesamentlik deur die NG Kerk en die VGK aangebied is, Afrikaanssprekend, is die konferensie net in Engels aangebied.
As Suid-Afrika ernstig is oor ’n oplossing vir die armoedevraagstuk sal die staat en gemeenskappe met groter erns sensitief moet wees vir die kulturele behoeftes van die arm lid van die publiek. Dit is dalk polities korrek om hul kulturele waardes te ignoreer, maar is dit moreel reg?
* Dr. Danie Langner is uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Afrikaans-arm-Gn-welsynshulp-20110406
No comments:
Post a Comment