Blankes is nie ryk nie
1. Inleiding
Hierdie dokument handel oor statistieke rakende die onderwerp van blanke armoede in Suid-Afrika, en is die teks van 'n toespraak gelewer deur Anton Barnard op die Konfederale Afrikanerforum se vergadering op 24 Julie 2004, waarvan die onderwerp blanke armoede was.
Die meeste van die inligting hierin vervat, is afkomstig van Statistiek Suid-Afrika, en is gebaseer op die nuutste beskikbare inligting, die 2001 Sensus. Die eerste gedeelte van hierdie dokument skets 'n demografiese prentjie van die blanke: hoeveel is daar in SA, hoe lyk sy ouderdomsprofiel en wat is sy peil van opvoeding. Die daaropvolgende gedeelte kyk na die realiteite van werkloosheid en armoede onder blankes, en laastens word die hoop dat ekonomiese groei Suid-Afrika se werkloosheidsprobleme sal oplos, bespreek.
In 'n onlangse artikel in die Mail & Guardian koerant gepubliseer, word Prof Lawrence Schlemmer aangehaal: "Today 430 000 whites, of a total white population of 4,5-million, are too poor to live in traditional white areas and 90 000 are in a survival struggle". Dit is 'n skrikwekkende syfer, aangesien dit beteken dat een uit elke tien blanke mense wat u op straat sien, arm is, en negentig duisend veg daagliks vir oorlewing. Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge beraam dat blanke werkloosheid met 74% toegeneem het tussen 1998 en 2002 teenoor 'n gemiddeld van 39% vir alle bevolkingsgroepe. Dit beteken dat daar vandag in SA meer armblankes is as enige tyd sedert die Depressie in die dertigerjare.
2. Ras-en taalsamestelling in Suid-Afrika
Daar word in die 2001 sensussyfers nie 'n onderskeid getref tussen verskillende taalgroeperings nie, maar wel op grond van ras. Die onderstaande grafiek toon aan watter gedeelte van die blanke bevolking in Suid-Afrika Afrikaanssprekend is. Dit is in die omgewing van sestig persent. Die syfers in die res van hierdie dokument is gebaseer op totale vir die blanke rasgroep, en om die aantal blanke Afrikaners te bereken, moet die syfers elders in hierdie dokument met 0.6 vermenigvuldig word. Blankes is ongeveer 10% van die totale bevolking in Suid-Afrika, en dus kan mens aanneem dat ongeveer 6% van SA se totale bevolking blanke Afrikaners is, 'n volk van ongeveer 2.4 miljoen mense.
(Bron: Statistiek SA)
3. Ouderdomsprofiel
Dit is duidelik dat blankes 'n tipiese, Westerse verouderingspatroon volg, naamlik dat die blanke bevolking verouder, veral in vergelyking met ander volke in Suid-Afrika. Die onderstaande grafieke toon dit duidelik. Die gemiddelde ouderdom vir 'n blanke Suid-Afrikaner is 34 jaar. Die gemiddelde ouderdom vir 'n swarte is slegs 24 jaar, wat aantoon hoe relatief oud die blanke bevolking teenoor die swart bevolking is.
'n Verdere buitengewone kenmerk van die ouderdomsprofiel vir blankes is die twee insinkings in die getalle, tussen 20 en 30 jaar en dan weer tussen 30 en 40-jarige ouderdom. As mens dit met die ouderdomsprofiel vir swartmense vergelyk, is dit duidelik dat die ouderdomsprofiel vir blankes nie die gewone klokvormige patroon volg nie. Hierdie twee insinkings kan verduidelik word deur eerstens die enorme aantal jongmense wat gebruik maak van Brittanje se stelsel van 'n tweejaar-werksvisum, waarskynlik omdat hulle op grond van hulle velkleur nie werk kan kry in Suid-Afrika nie. Die tweede insinking tussen 30 en 40-jarige maak sin as mens in ag neem dat verskeie skattings die aantal emigrante sedert 1994 op 1 miljoen raam.
(Bron: Statistiek SA)
(Bron: Statistiek SA)
4. Inkomsteprofiel van blankes
Dit is 'n algemene mite dat blankes in Suid-Afrika 'n eiland van buitensporige rykdom in 'n see van armoede op die Afrikakontinent verteenwoordig. Bogenoemde persepsie geld miskien vir die top twee persent van alle blankes (en inderdaad ook vir swartmense ook wat voordeel getrek het uit bemagtiging), maar die res is nie naastenby so wel daaraan toe as wat algemeen geglo word nie. Die tabel hieronder toon die maandelikse inkomste en aantal persone aan, asook 'n persentasie van die totaal waarin elke kategorie van inkomste val.
Maandelikse inkomste | Aantal blankes | Kumulatief | Kumulatiewe persentasie |
Geen | 40377 | 40377 | 2.2 |
R 1 - R 400 | 26319 | 66696 | 3.6 |
R 401 - R 800 | 41272 | 107968 | 5.8 |
R 801 - R 1600 | 129539 | 237507 | 12.8 |
R 1601 - R 3200 | 322945 | 560452 | 30.3 |
R 3201 - R 6400 | 527997 | 1088449 | 58.8 |
R 6401 - R 12800 | 437759 | 1526208 | 82.5 |
R 12801 - R 25600 | 216475 | 1742683 | 94.2 |
R 25601 - R 51200 | 73419 | 1816102 | 98.1 |
R 51201 - R 102400 | 27110 | 1843212 | 99.6 |
Meer as R 204801 | 7416 | 1850628 | 100.0 |
(Bron: Statistiek SA)
Die huidige mediaansalaris in die VSA wissel na gelang van ervaring, en is tussen 36000 dollar en 68000 dollar per jaar. Teen 'n wisselkoers van R6 beloop dit tussen R18000 en R34000 per maand. As mens bostaande Suid-Afrikaanse syfers vir inflasie aanpas, is die mediaaninkomste van Suid-Afrikaanse blankes ongeveer R3500 per maand, wat duidelik 'n klein fraksie is van die Amerikaanse mediaaninkomste. Daar is kennelik 'n verskil in die koopkrag van 'n rand in Suid-Afrika en 'n rand in die VSA, maar daardie verskil is nie naastenby groot genoeg om te kompenseer vir die verskil tussen Suid-Afrikaanse blankes en hul Westerse eweknieë in die VSA nie.
Die minimumloon in die VSA is $5.15 per uur. Dit impliseer dat 'n meerderheid van blankes (ongeveer 59%) maandeliks minder as die minimum maandelikse loon van 'n skottelgoedwasser by 'n McDonald's in die VSA verdien! Dit is dus duidelik dat blanke Suid-Afrikaners glad nie as ryk beskou kan word in internasionale terme nie.
5. Toegang tot kommunikasiemedia
Die volgende tabel reflekteer die proporsie van blanke huishoudings wat nie kommunikasiemiddele soos rekenaars en telefone besit nie. Meer as een uit elke vyf blanke gesinne het nie 'n telefoon by die huis nie, en meer as helfte van alle blanke huishoudings het nie 'n rekenaar tuis nie. In die VSA is die syfers vir rekenaarbesit ongeveer 80% van alle huishoudings (SA blankes 46%), en 98% van alle Amerikaanse huishoudings het 'n telefoon, teenoor 79% van blanke huishoudings in Suid-Afrika.
Toerusting | Persentasie van blanke huishoudings daarsonder |
Selfone | 25% |
Rekenaars | 54% |
Radio | 5% |
Telefoon | 21% |
Televisie | 7% |
(Bron: Statistiek SA en Surveys USA)
6. Behuising
Daar is 68909 blanke huishoudings, ongeveer 5% van die totaal, wat in wonings bly anders as konvensionele huise, woonstelle of meenthuise. Bogenoemde tipes wonings sluit in plakkershutte, karavane en kamers agter in ander mense se erwe. Bykans sewe duisend blanke gesinne (waarskynlik rondom 30 000 mense) woon letterlik in 'n plakkershut.
Tipe woning | Aantal huishoudings | Persentasie van die totaal |
Huis op ‘n woonerf | 1031295 | 73.1 |
Woonstel | 165590 | 11.7 |
Meenthuis | 143431 | 10.2 |
Woonstel of kamer in agterplaas van ander woning | 30947 | 2.2 |
Tradisionele woning (rondawels ens) | 15427 | 1.1 |
Kamer / woonstel op gedeelde eiendom | 11054 | 0.8 |
Plakkershut / informele struktuur in plakkerskamp | 4597 | 0.3 |
Karavaan of tent | 4536 | 0.3 |
Plakkershut / informele struktuur in agterplaas | 2348 | 0.17 |
7. Regstellende aksie
In 1991 was 43% van die Suid-Afrikaanse polisiemag blank. Teen 2002 het hierdie persentasie gekrimp na 26% (bron: Instituut vir Sekerheidsstudies). Uit 'n totaal van ongeveer 100 000 polisiemanne, impliseer dit 'n verlies van 17000 blanke poste in die SAP alleen.
Volgens die SA Departement van arbeid is daar 9.1 miljoen mense in formele poste in diens in Suid-Afrika. Van daardie 9.1 miljoen mense, is 1.86 miljoen blankes. As 'n persentasie van die totale arbeidsmag, verteenwoordig blankes 20.4% van die totaal. Die regering se amptelike beleid is dat die werksplek die demografie van Suid-Afrika moet reflekteer, en dus sal die aantal blankes in formele diens moet verminder vanaf die huidige 1.86 miljoen na tien persent van die werksmag in ooreenstemming met hulle demografiese verteenwoordiging in Suid-Afrika, 900 000 mense, om aan die vereistes vir rasseverteenwoordiging te voldoen. Dit impliseer dat, sou die regering sy oogmerk met regstellende aksie bereik, bykans 'n miljoen blankes, dit wil sê meer as helfte van dié wat tans werk, hulle werk kwyt sal wees.
Ongeveer 64% van die blanke bevolking in Suid-Afrika het ten minste 'n matriek of verdere kwalifikasie. Dit vergelyk egter redelik swak met lande soos die VSA, Kanada en Brittanje, waar hierdie persentasie 75% of hoër is, maar is goed in vergelyking met Italië waar minder as 50% van alle mense 'n matriek of verdere kwalifikasie besit. Hierdie laer persentasie kan onder andere toegeskryf word aan die verlede, waar sekere ambagte byvoorbeeld vir blankes gereserveer was, en dit nie nodig was vir blankes om hulself beter te kwalifiseer nie. Dit beteken egter dat meer as een derde van alle blankes nie 'n formele kwalifikasie of selfs matriek het nie, en dus moet meeding met swartes wat alreeds bevoordeel word deur regstellende aksie.
Hoogste akademiese kwalifikasie | Persentasie van SA blankes ouer as 20 |
Tersiêre kwalifikasie | 24.1 |
Matriek | 40.7 |
Hoërskool sonder matriek | 32.8 |
Laerskool | 1.2 |
Geen | 1.2 |
(Bron: Statistiek SA)
Daar was in 2001 ongeveer 1,2 miljoen blanke skoliere of studente, wie grotendeels sonder enige vooruitsig op 'n werk sit as gevolg van regstellende aksie, omdat swart skoliere en graduandi bo hulle voorkeur vir poste sal geniet. As mens aanneem dat die gemiddelde duurte van 'n blanke se opvoedkundige loopbaan ongeveer twaalf jaar duur, beteken dit dat ongeveer 100 000 blanke skoliere en studente elke jaar hulle opleiding voltooi, sonder 'n redelike kans om 'n werk te bekom. Mens kan die impak hiervan duidelik waarneem in die ouderdomsprofiel van blankes elders in hierdie dokument, naamlik dat blanke jongmense op grootskaal na Brittanje uitwyk sodra hulle afgestudeer het.
Skoliere en studente | Aantal blankes van 5 tot 24 jaar oud |
Voltyds | 834264 |
Deeltyds | 48842 |
Studeer nie | 367775 |
Nie gespesifiseer nie | 27571 |
Totaal | 1278453 |
(Bron: Statistiek SA)
8. Werkloosheid
Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem het oor die afgelope tien jaar dramaties toegeneem. Volgens Oxford Universiteit se Centre for the Study of African Economics in Brittanje, het werkloosheid volgens 'n breë definisie (insluitende diegene wat moed opgegee het en nie meer aktief werk soek nie) van 31% in 1993 na 41.8% in 2002 vermeerder, dit wil sê met ongeveer 35%.
Blanke werkloosheid neem egter veel vinniger as werkloosheid vir alle groepe toe. Die Instituut vir Sekerheidstudies beraam dat blanke werkloosheid sedert 1995 verdubbel het, dit wil sê met 100% gestyg het, teenoor die 35% vir alle bevolkingsgroepe hierbo genoem. Emfuleni, die Vaaldriehoek se munisipaliteit, het byvoorbeeld volgens Statistiek SA se syfers slegs 4339 werklose blankes. As mens egter in ag neem dat Yskor in die Vaaldriehoek alleen 16000 poste afgeskaf het, lyk die syfers van Statistiek Suid-Afrika vir die 2001 sensus uiters verdag en na 'n reuse onderskatting van die omvang van die probleem in blanke geledere. Mens kan spekuleer dat die ware syfers miskien twee of drie maal die getalle hieronder behoort te wees.
Die tabel hieronder bevat nietemin die top tien munisipaliteite in terme van blanke werkloosheid, met die aantal werklose blankes, volgens die amptelike definisie. Dit sluit diegene uit wat pakkette geneem het, nie ekonomies aktief is nie, of nie meer na werk soek nie.
Munisipaliteit | Aantal werklose blankes, amptelike definisie |
Ekurhuleni Metro (Oosrand) | 17861 |
Johannesburg Metro | 14907 |
Pretoria: Tshwane Metro | 13211 |
Kaapstad | 11987 |
Durban: Ethekwini | 8399 |
Port Elizabeth: Nelson Mandela | 4680 |
Emfuleni | 4339 |
City Council of Klerksdorp | 2361 |
Mogale Stad | 2258 |
Buffalo Stad | 1915 |
(Bron: Statistiek SA)
Die kaarte hieronder toon die verspreiding in werkloosheid per munisipale distrik in Suid-Afrika, en ook in die omgewing van Gauteng. Hoe donkerder die skakering, hoe 'n hoër aantal blankes sit sonder werk. Dit is duidelik dat in terme van getalle, die grootste probleem met werkloosheid onder blankes in die stedelike sentra gekonsentreer is, byvoorbeeld in Gauteng, die Vaaldriehoek, die Vrystaatse goudvelde, Bloemfontein, Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth en die Weskaap.
Geografiese verspreiding van werkloosheid onder blankes, Suid-Afrika
Geografiese verspreiding van werkloosheid onder blankes, Gauteng
9. Lê die oplossing in ekonomiese groei vir die hele Suid-Afrika?
Daar bestaan deesdae die neiging selfs uit die geledere van politieke partye met 'n meerderheid van hulle lede onder Afrikaanse blankes, om hoop te vestig op die toekomstige ekonomiese groei in Suid-Afrika, wat die armes uit hul armoede sal ophef, en sodoende 'n beter lewe vir almal sal verseker. Die ekonomiese realiteite spreek egter van die teendeel.
Die Nuwe Suid-Afrika se ontstaan het min of meer saamgeval met die opkoms van twee Asiese reuse, China en Indië. Suid-Afrika sit met 'n geweldige ooraanbod van ongeskoolde arbeid, asook 'n ekonomie wat van die uitvoer van kommoditeite en grondstowwe afhanklik is. Mynbou en landbou, albei sektore wat kommoditeite en grondstowwe produseer, word toenemend meer kapitaal-intensief, en daar is druk op beide sektore om van werksgeleenthede ontslae te raak. Vir Suid-Afrika om werksgeleenthede by te kry, sal daar eerder op die dienste- en vervaardigingssektore gekonsentreer moet word. Ongelukkig moet Suid-Afrika dan meeding met lande soos China en Indië. Indië het onlangs 'n geweldige opbloei in sy dienstesektor beleef, aangesien hy oor 'n groot aantal goedgekwalifiseerde, Engelssprekende werkers beskik, en China se ekonomiese groei die afgelope paar jaar, grootliks op vervaardiging gebaseer, kan eerder as 'n ontploffing beskryf word.
Sedert 1994 het Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers slegs gemiddeld 2.8% per jaar beloop, terwyl die natuurlike aanwas in die bevolking tussen 2 en 3% per jaar is, en dit sluit die enorme toestroming van onwettige immigrante uit die res van Afrika uit. Vergelyk die 8-12% jaarlikse groei van Indië en China, albei lande met meer as 'n miljard mense elk (bron: The Economist) met Suid-Afrika se powere prestasie van minder as drie persent, en dit is duidelik dat 'n groot skroef iewers in SA se ekonomie los is.
As gevolg van ontoepaslike arbeidswetgewing in Suid-Afrika, wat buitensporige minimumlone vereis vir 'n derdewêreldland (die minimumloon in China is 60 dollar per maand, vergeleke met 'n minimumloon van 190 dollar per maand in Suid-Afrika), asook te veel wetlike struikelblokke in die pad van indiensneming, is dit teen besighede se belang om mense in diens te neem, en het SA sedert 1994 geen werksgeleenthede bygekry nie, maar inteendeel 2 miljoen werksgeleenthede verloor. Suid-Afrika se arbeid is kortom te swak opgelei, militant en duur om met ander lande mee te ding. Die resultaat daarvan is eenvoudig dat arbeid in Suid-Afrika met kapitaalintensiewe masjinerie vervang word.
Die prentjie in terme van buitelandse direkte investering, wat baie mense as noodsaaklik beskou om ekonomiese groei aan te wakker, lyk sleg in Suid-Afrika. In 2002 het SA minder as 'n miljard dollar aan sulke investering ontvang, in vergelyking met China se meer as 50 miljard dollar. Die saak word vererger deur die lae vlakke van binnelandse investering. Ten spyte van o.a. Afrikaanse sakelui wat hoog opgee oor hoe positief hulle teenoor die nuwe Suid-Afrika is, is die investering binnelands slegs 15% van BBP, teenoor die internasionale norm van 25%. Dit verteenwoordig duidelik 'n mosie van wantroue vanuit die geledere van sakelui in die toekoms van Suid-Afrika, mooi praatjies teenoor die ANC ten spyt.
Selfs al sou ons ons hoop vestig op 'n wonderbaarlike verdubbeling in SA se jaarlikse groeikoers na 6-8%, en die aanname maak dat werksgeleenthede ook teen daardie tempo sal groei, iets wat nie oor die afgelope tien jaar gebeur het nie (inteendeel, dit het gekrimp), sal werkloosheid nooit uitgewis word nie, aangesien die aanwas van die bevolking en onwettige immigrasie die groei in werksgeleenthede sal uitkanselleer.
No comments:
Post a Comment